‘Geleende’ polisievoertuig teruggevind 

Die Namibiese polisie het die voertuig opgespoor wat vir byna twee jaar lank deur ‘n sersant van die Namibiese polisiekollege “geleen” is. Die voertuig is vandag by die staatsgarage in die Noordelike Nywerheidsgebied gevind waar dit geparkeer is. Die sersant het glo die VW Jetta 6 in Januarie 2021 uitgeboek en 3 000 kilometer met die voertuig afgelê. In dié tyd is die voertuig een keer by ‘n polisie-vulstasie volgemaak. ‘n Saak van diefstal teen die sersant is deur Nampol geopen. Nampol sê die ondersoek duur voort en al die inligting kan nie nou gedeel word nie, want dit kan die ondersoek belemmer.