Geingob was ‘n voorbeeld: Ramaphosa

President Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika het op ‘n blitsbesoek aan Windhoek by die voormalige eerste dame, Monica Geingos, sy medelye betuig met die afsterwe van president Hage Geingob. Ramaphosa het eers president Nangolo Mbumba by staatshuis ontmoet. Hy het aan die media by die Geingobs se woning, Casa Rosalia, gesê die leiers van die ANC was verheug toe Namibië onafhanklik geword het. Dit was as gevolg van die werk van leiers soos Geingob en voormalige presidente Sam Nujoma en Hifikipumbe Pohamba, het hy bygevoeg. Hy sê dit het as voorbeeld vir die ANC gedien, wat voortgegaan het met hul onafhanklikheidstryd.