Geingob: Hou op vingers wys oor treurige eksamenuitslae

President Hage Geingob het sy ontevredenheid met die swak eksamenuitslae van Namibiese graad 11- en 12-leerders uitgespreek. Hy het die onderwysminister Anna Nghipondoka versoek om ‘n verslag te verskaf waarin uiteengesit word wat fout geloop het en die redes vir die treurige resultate. Geingob sê rolspelers in onderwys, soos onderwysers, leerders, ouers en vakbonde, moet ophou vingers na mekaar wys. Die President wil Namibiërs gerusstel dat ná die ontvangs van die verslag van die onderwysminister, die nodige besluite en aksies geneem sal word om die belange van onderwysers, leerders en die onderwyssektor in die algemeen te bevorder.