Geingob breek sy stilswye oor die talle plaaslike krisisse

President Hage Geingob het uiteindelik sy stilswye gebreek. Hy het tot dusver geen kommentaar gelewer oor die inflasie-krisis in die land nie en ook nie oor die kwessie van vulstasie-eienaars, die stygende brandstofprys of die toenemende onwettige invoer van Angolese brandstof na die land toe nie. Laat Maandagaand in ‘n verklaring het Geingob die dreigende staking van staatsamptenare as ‘n binnelandse krisis beskryf en gesê hy las sy volgende twee oorsese reise af. Hy sou vir vier dae op uitnodiging van die Jamaikaanse regering, daardie land besoek het en die parlement toegespreek het, en daarna, nog vier dae in Kuba spandeer het om ‘n toekenning, die Orde van Jose Julian Marti, te ontvang. Hy het die staking as ‘n ondeurdagte besluit beskryf en die verklaring maak ook melding daarvan dat die president nie sommer net vir niks reis nie.