Geen rede tot paniek oor nuwe Omikron-subvariant

Die Suid-Afrikaanse regering se koronavirus-bevelsraad bespreek die opkoms van ‘n nuwe Omikron-subvariant  van die siekte vandag. Dit volg op bevestiging dat die sub-variant onlangs in die land opgespoor is. Dit word beskryf as nie baie gevaarlik nie, omdat Suid-Afrikaners genoeg immuniteit opgebou het van die begin van die pandemie af.  ‘n Kenner van aansteeklike siektes, Richard Lessells, sê die variant is net een van duisende wat wetenskaplikes aangeteken het vandat die Omikron-variant die eerste keer meer as ‘n jaar gelede uitgeken is. Hy verwag nie dat die land se reaksie daarop sal verander nie. Twee gevalle van die subvariant is ook in Namibië aangemeld en die gesondheidsministerie sê daar is geen rede tot paniek nie.