Geen aanspreeklikheid vir ontploffing in Peshawar

Niemand het nog aanspreeklikheid aanvaar vir die ontploffing by ‘n moskee in Peshawar in Pakistan nie. Minstens 28 mense is dood en 150 is beseer. Talle van die slagoffers was polisielede wat vir die oggendgebede byeengekom het. Die moskee is geleë in ‘n kompleks wat die hoofkantoor van die provinsiale polisie en die teen-terreurdepartement huisves. ‘n Gedeelte van die moskee het in duie gestort en die vermoede bestaan dat talle mense nog in die puin vasgekeer is. Volgens die polisie was daar minstens 260 mense in die moskee.