Freddy saai verwoesting in Malawi, Mosambiek

Die sterftesyfer nadat die sikloon Freddy Malawi en Mosambiek getref het, het tot meer as 200 gestyg. Die storm, wat reeds ‘n rekordtyd lank woed, het oorstromings en modderstortings veroorsaak, en die Malawiese regering sê minstens 190 mense is dood en 584 beseer terwyl 37 vermis word. Owerhede in die buurland Mosambiek het 20 sterftes en 24 beseerdes aangemeld. ‘n Ramptoestand is in 10 suidelike distrikte in Malawi afgekondig wat die swaarste deur die storm getref is. Amptenare verwag die sterftesyfer gaan verder styg, omdat sommige gebiede steeds van die buitewêreld afgesny is weens onophoudelike reën en sterk wind.