Franse aftree-ouderdom: Macron skop vas

Die Franse president, Emmanuel Macron, sê die pensioenhervormings wat hy verlede week sonder ‘n stemming in die parlement deurgevoer het, is ‘n noodsaaklikheid. Hy hou by sy besluit om die aftree-ouderdom teen die einde van die jaar van 62 na 64 te verhoog. Frankryk het ‘n pensioen-betaal-stelsel waarvolgens werkers vir afgetredenes betaal. Macron sê hy is oortuig daarvan dat die land se aftreestelsel aangepas moet word om dit gefinansier te hou. ‘n Negende ronde stakings en nasionale betogings word vandag regdeur die land verwag.