Florin vra steeds vir remissie van vonnis

Thomas Florin se aansoek voor die hoërhof, wat as dringend gebring is maar nie dringend aangehoor word nie, is weer vandag voor regter Shafimana Ueitele. Terwyl die aansoek verskeie wette aanhaal sowel as ‘n uitspraak deur die hooggeregshof, kom dit neer op die argument dat Florin meen dat ten tye van sy vonnisoplegging, die wet voorsiening maak vir ‘n remissie in sy vonnis. Hy is op verskeie klagte, wat moord insluit, skuldig bevind en op 22 Desember lewenslank tronk toe gestuur. Onder Namibiese wette is lewenslank normaalweg 25 jaar. Florin het sy vrou Monica in Swakopmund vermoor en haar oorskot gekook. Haar organe is in die woestyn begrawe en haar skelet is in die plafon van hulle huis versteek. Florin is aangekeer net voor hy die land wou verlaat met sy twee klein kinders. Luidens sy stukke voor die hof moes hy 16 jaar en agt maande tronkstraf uitgedien het met moes hy reeds op 22 Augustus 2016 vrygelaat gewees het. Daar is tien respondente in die saak en almal verdedig. Die partye vra vandag vir uitstel van drie weke om dokumente te finaliseer.