Florin hoor vandag oor parool-aansoek

Thomas Florin, die man wat in 1998 sy vrou Monica, in Swakopmund vermoor, haar liggaam opgesny en gekook het, en sê hy moet in aanmerking kom vir parool, sal na verwagting vandag by regter Boas Usiku hoor of sy aansoek geslaag het of nie. Ter sprake in die saak is die wet wat hersien is van die 1959 wetgewing en op 15 Augustus 1999 in werking getree het. Luidens die nuwe wetgewing moet 25 jaar uitgedien word waar die 1959-wetgewing tien jaar toegelaat het voor parool oorweeg is. Dus sê Florin in sy stukke dat omdat hy onderhewig is aan twee verskillende wette, een wat geldig was toe hy Monica vermoor het, en die ander toe hy gevonnis is, moet die datum van die oortreding gebruik word. Florin was op 3 Desember verlede jaar 24 jaar agter tralies.