Fishrot-regter sê daar was genoeg tyd vir voorbereiding

Die Fishrot-regter Moses Chinhengo het druk op die verdagtes geplaas en vra dat die verhoor in die eerste week van Desember begin. Die partye het vergader om ‘n verhoordatum, wat bespiegel was om eers volgende jaar te wees, te bepaal. Hy sê die groep is reeds formeel aangekla in Oktober 2021 en het sedertdien tyd gehad om ‘n verdediging voor te berei. Die eerste arrestasies is reeds einde November 2019 gedoen. Die staat is sedert 2 Oktober gereed om voort te gaan. Van die regsmanne van die tien verdagtes sê hulle kliënte het nie geld om vir verteenwoordiging te betaal nie en wanneer befondsing, wat in van die gevalle van die regering geëis word, in plek is sal hulle ses weke nodig hê om voor te berei en sal dus eers in Junie volgende jaar met die verhoor begin. Dit sou volgens hulle ook beter wees as die verdagtes op borg is omdat dit moeilik is om in die tronk voor te berei. Bernhardt Esau, James Hatuikulipi, Pius Mwatelulo, Sacky Shanghala en Ricardo Gustavo is nie gereed om te begin nie. Hulle sal na verwagting vroeg in Desember moet pleit. Intussen kom Esau en Nigel van Wyk se borgaansoek weer vandag voor regter David Munsu voor en dit blyk daar is geld om vir daardie aansoek te betaal.