Fishrot: Netumbo en kie in YslandJune 8, 2022

Die Namibiese adjunk-premier en minister van internasionale betrekkings Netumbo Nandi-Ndaitwah is tans aan besoek aan Ysland om, onder andere, die uitlewering van uitvoerende hoofde van die Samherji-vismaatskappy wat met die Fishrot-skandaal gekoppel word, te bespreek. Die aanklaer-generaal Martha Imalwa en die adjunk-direkteur-generaal van die Teenkorrupsie-kommissie advokaat Erna van der Merwe is ook daar maar het reeds verlede week ‘n Interpol-vergadering in verband met Fishrot in Den Haag in Nederland bygewoon. Volgens berigte het Nandi-Ndaitwah met die eerste minister van Ysland, Katrin Jakobsdottir vergader. Media in Ysland berig dat Jakobsdottir sê dat samewerking tussen die twee ondersoekspanne van Namibië en Ysland goed vorder. Maar, Namibië het nog nie ‘n formele aansoek vir die uitlewering van Adalsteinn Helgason, Egill Arnason en Ingvar Juliusson ingedien nie. Ysland se beleid laat nie die uitlewering van sy burgers toe nie.