Fishcor se laaste poging om Maren de Klerk via video te ondervra, misluk

Regter Orben Sibeya het in die hoërhof toestemming tot appèl aan Fishcor geweier in die maatskappy se aansoek om die omstrede Windhoek-prokureur Maren de Klerk via ‘n videoskakel te ondervra. Volgens Sibeya, is daar nie enige vooruitsigte van sukses op appèl nie. Die regter het vroeër so aansoek deur Fishcor van die hand gewys. De Klerk het reeds Namibië in 2020 gevlug na hy deur die Teenkorrupsie-kommissie in verband met Fishrot ondervra is. Hy voer aan sy lewe is in gedrang. Fischor wou hom ondervra in verband met visvangkontrakte met twee maatskappye wat hy probeer om te kanselleer. Volgens Fishcor is die kontrakte in ‘n korrupte omgewing gesluit. Die maatskappy sê De Klerk is die enigste een met inligting omdat hy by die vergadering, saam met Sacky Shanghala en James Hatuikulipi was, toe die kontrakte onderteken is.