Finansiële Intelligensie-sentrum klaar CBI ‘lisensie’ op

Die Namibiese Finansiële Intelligensie-sentrum het lede van die Namibiese publik daaraan herinner dat hy nie lisensies verskaf aan enige virtuele bate diensverskaffers nie. Die sentrum sê daar is inligting op sosiale media platforms dat die sentrum se registrasie van CBI Exchange Namibia as ‘n lisensie geag moet word en dat CBI dus reg het om handel te dryf in aanlynbates. Die inligting sê verder dat die sogenaamde lisensie CBI die reg gee om sekere dienste aan die publiek te verskaf. Volgens die sentrum het hy geen regte om lisensies te verskaf nie en is ook nie ‘n owerheid wat enige magtiging kan verskaf in die verband nie. Die sentrum is gestig om geldwassery, terreurbefondsing en meer te bekamp.