EU wil gefluoreerde gasses verbied

EU-lidlande het ooreengekom om die gebruik van kragtige kweekhuisgasse, wat algemeen in toestelle soos yskaste en lugversorgers gebruik word, teen 2050 uit te faseer. Internasionale nuusagentskappe berig gefluoreerde gasse – deur Greenpeace beskryf as die “ergste kweekhuisgasse waarvan jy nog nooit gehoor het nie” – het ‘n aardverwarmingseffek wat tot 25 000 keer groter is as koolstofdioksied. Die mees algemene variant, HFK’s, het “osoondodende” CFK’s vervang nadat dit in die vroeë 1990’s verbied is. Die EU sê die uitlating van gefluoreerde gasse in die blok het van 1990 tot 2014 verdubbel, maar het sedert wetgewing in 2015 ingestel is, begin daal.