EU koop 110 000 dosisse entstof vir aap-pokke

Die Europese Unie onderteken vandag ‘n ooreenkoms met ‘n onbekende vervaardiger vir die verskaffing van ongeveer 110 000 dosisse entstowwe teen aap-pokke wat vanaf einde Junie afgelewer moet word. Die EU se gesondheidskommissaris Stella Kyriakides sê die entstowwe word met EU-fondse aangekoop. Die identiteit van die vervaardiger sal volgens haar binnekort bekend gemaak word. Die blok se dwelmreguleerder het vandeesmaand gesê hy is in gesprek met die Deense biotegnologiefirma Bavarian Nordic oor proefdata wat ‘n uitbreiding van die goedgekeurde gebruik van die Imvanex-spuit vir aap-pokke aandui. Die spuit is reeds vir aap-pokke in die VSA goedgekeur. Kyriakides sê daar is meer as 900 gevalle van aap-pokke in die EU bevestig.