Ethiopië eerste land wat Somaliland ‘erken’

Ethiopië het ‘n ooreenkoms met Somalië se wegbreekstreek, Somaliland, onderteken om sy Rooisee-hawe Berbera te gebruik. Die land maak tans staat op die buurland Djiboeti vir die grootste deel van sy maritieme handel. Die ooreenkoms lok groot reaksie uit omdat dit Ethiopië die eerste land maak wat Somaliland as ‘n onafhanklike nasie erken. Luidens berigte, sluit die ooreenkoms in dat Somaliland ‘n aandeel in Ethiopian Airlines kry. Somaliland het reeds in 1991 outonomie verklaar van Somalië maar nie Somalië, nog enige ander land, het erkenning aan die streek gegee nie.