Eskom-hoof sê COP26 se R131 miljard befondsing sal help

Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, sê die beskikbaarheid van 131 miljard rand se befondsing van COP26 sal bydra tot nuwe opwekkingsprojekte in Eskom se energie-oorgang. Hy het ook die media oor die vingers getik en gesê die kragvoorsiener stel beurtkrag in en nie kragonderbrekings nie. De Ruyter het op die daaglikse virtuele nuuskonferensie die jongste inligting bekend gemaak oor die huidige uitdagings vir die kragstelsel. Hy sê Eskom probeer onderbrekings vermy deur die vraag deur middel van beurtkrag te bestuur.