Erongo-polisie vra om hulp na diefstal by leerwinkel

Die polisie in die Erongo-streek het bevestig dat die twee verdagtes wat items ter waarde van 480 000 Namibiese dollar by ‘n leerwinkel op Swakopmund, Exclusive Lederwaren Shop, gesteel het, nog nie in hegtenis geneem is nie. Die polisie sê die eienaar het die sekuriteitsdienste gekontak nadat die winkel se alarm afgegaan het. Na bewering het die verdagtes toegang tot die perseel verkry deur die winkel se hoofdeur oop te forseer, waarna hulle ‘n aantal leer-items gesteel het. Die verdagtes het in ‘n silwer sewe-sitplek-voertuig weggejaag. Adjudant-offisier Sameul Auchab doen ‘n beroep op die publiek met inligting oor die verdagtes om hom of die naaste polisiestasie te kontak.