Erge Covid verhoog hart-risiko

Navorsers by die Amerikaanse departement van veteraan-aangeleenthede sê die risiko vir hartprobleme neem aansienlik toe na ‘n Covid-infeksie. Ongeveer ‘n jaar na herstel van ‘n erge Covid-infeksie is daar ‘n 63 persent hoër risiko vir hartaanvalle, ‘n 69 persent hoër risiko vir onreëlmatige hartritme, ‘n 52 persent hoër risiko vir beroerte, ‘n 72 persent hoër risiko van hartversaking, en ‘n byna drie keer hoër risiko van ‘n bloedklont in die longe. Die studie is in Nature Medicine gepubliseer. Die verhoogde risiko’s het voorgekom in alle ouderdoms- en rassegroepe, sowel as rokers en nie-rokers en mense met en sonder diabetes.