Geliefde Amarula dood op 65

‘n Geliefde en ikoniese olifant is in die Pilanesberg Nasionale Park in Noordwes dood. Die bemarkingsbestuurder van die Pilanesberg Nasionale Park se natuurlewe-trust, Perry Dell, sê hulle Bat Hawk-teenstropingspatrollie het ‘n dooie olifant se karkas opgemerk en ‘n span op die grond kon vasstel dit is die 65-jarige Amarula. Dell sê niemand het gesien hoe hy dood is nie, maar sy ouderdom het teen hom getel. Amarula se nalatenskap is groot, en baie mense sal onthou dat hulle die ou grote in die bosse opgemerk het. Hy is in 1998 vanuit die Kruger Wildtuin na Pilanesberg saam met drie ander groot bulle verskuif om jonger bulle, wat amok gemaak het, onder beheer te bring.