Elkeen kan N$1 skenk vir Mandume se museum

Die King Mandume Museum-trust benodig 18 miljoen Namibiese dollar vir die voltooiing van die King Mandume Museum wat by Omhedi in die Ohangwena-streek in aanbou is. Die plaaslike sakeman en voorsitter van die trust Vilho Nghipondoka sê hulle het reeds afgeskop met ‘n insamelingsveldtog van 1 miljoen dollar waarvolgens alle inwoners van die Oukwanyama Tradisionele Owerheid gevra word om vrywillig net 1 dollar by te dra. Nghipondoka sê hierdie oproep is nie net aan die mense van Oukwanyama gerig nie, maar aan elke Namibiër om die kultuur en erfenis van Oukwanyama te help bewaar deur artefakte te versamel wat dan in die museum uitgestal sal word. Mandume word alom erken as een van Namibië se mees uitstaande leiers. Hy was 17 toe hy die troon in 1911 bestyg het. Hy was die eerste Oukwanyama-koning wat vroue- en omgewingsregte ingestel het en is deur koloniale magte doodgemaak omdat hy gedurf het om na sy volk toe te gaan oor die pasgestigte grens tussen Angola en Namibië.