Eksperimentele nuwe reëls gaan getoets word in vanmiddag se toets tussen die Springbokke en die Pumas

Rugby: Eksperimentele nuwe reëls gaan getoets word wanneer die Springbokke en die Pumas mekaar vanmiddag op die Nelson Mandelabaai-stadion in ‘n Kampioenskapsreekstoets pak. Wêreldrugby het die wysigings goedgekeur in ‘n poging om die spel aantrekliker te maak. Dit sluit in dat ‘n span besit behou wanneer hy die bal uit sy eie helfte onregstreeks binne die teenstander se kwartgebied uitskop, en dat ‘n speler wat met ‘n rooi kaart afgestuur is, na 20 minute vervang mag word. ‘n Speler wat om taktiese redes vervang is, mag ook terugkeer in die plek van ‘n spanmaat wat ‘n rooi kaart gekry het. Die Springbokke se kaptein, Siya Kolisi, sê intussen die span beskou vandag se Kampioenskapstoets teen Argentinië in Gqeberha as net so belangrik as die pas-afgelope reeks teen die Britse en Ierse Leeus. Die wedstryd begin vanmiddag vyf oor vyf.