Ekonoom sê daar’s ander opsies as om repokoers te verhoog

Die bekende Namibiese ekonoom Mally Likukela van Twilight Capital sê die verhoging van rentekoerse is nie die enigste opsie om inflasie te beteuel nie. Die sentrale bank het die repokoers met 25 basispunte opgestoot. Likukela sê die Bank van Namibië het ‘n monetêre beleid wat onderdanig is aan Suid-Afrika en die idee dat hoër rentekoerse inflasie kan beheer is plaaslik gebrekkig. Hy sê die regering behoort te help om voorsieningskettings en vervoernetwerke op die kort termyn te herstel, en te dink oor hoe om ons land se nywerheidsbeleid op die lang termyn bestand te maak teen toekomstige uitdagings. Openbare alternatiewe vir duur items moet ook deur die regering geïdentifiseer en verskaf word. Hy maak melding van brandstofpryse as ‘n voorbeeld. Die regering kan ook pryse van geadministreerde goedere en dienste reguleer sonder om enige wesenlike markverdraaiings te skep. Huurbeheer is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Laastens sê hy maatskaplike beskermingsprogramme en staatsbesteding aan alles van kindersorg en gesondheidsorg tot openbare vervoer en ontspanning kan pasgemaak wees om die lewe vir mense meer bekostigbaar te maak.