Ekonome, medici meen inentings is die oplossing

Covid-inentings is steeds kontroversieel en verdeel gemeenskappe regoor die wêreld. Maar, talle ekonome en medici meen dat dit die enigste manier is om die pandemie onder beheer te bring en ekonomiese herstel te bewerkstellig. Die goewerneur van die Bank van Namibië Johannes !Gawaxab het ook al melding gemaak van die feit dat inentings deel vorm van die land se ekonomiese herstel. Verskeie sakelui het ook aangedui dat inenting die enigste manier is om terug te keer na ‘n ou-nuwe normaal. President Hage Geingob het ook die lae inentingsyfer in Namibië betreur. In sy mening is die land nie ‘n eiland nie en vorm deel van die globale gemeenskap. Sonder genoegsame inentings sal Namibië homself van die internasionale gemeenskap isoleer. Op die oomblik is net minder as 23 persent van Namibiërs ten volle ingeënt. Die WGO vra vir ‘n minimumsyfer van 40 persent, wat reeds deur Botswana bereik is. Die buurland het ‘n 43 persent syfer, uit ‘n bevolking van 2,4 miljoen, wat reeds ten volle ingeënt is.