‘Ek dog dis hoendervoer’ – vermeende dagga-smokkelaar

Die Kongolese burger Gilbert Kalenga, wat gevang is met dagga ter waarde van 1,35 miljoen Namibiese dollar, het in die hof gesê hy was onder die indruk dis hoendervoer. Hy is verlede maand in Swakopmund gevang met 27 kilogram dagga. Hy het getuig dat hy deur ‘n sekere mnr. Gabriel gekontak is om die hoendervoer te ontvang vir Gabriel se plaas by Hentiesbaai. Hy het die bokse ontvang vanaf ‘n koeriermaatskappy wat hom op sy selfoon gekontak het. Op die dokumente was wel sy nommer maar sy naam is as Nande Kamati aangedui. Die polisie is in kennis gestel nadat personeel van die vervoermaatskappy die sterk reuk van dagga by die besending opgetel het. Die besending is vanaf Otjiwarongo na die kus gestuur. Nog dagga is deur die polisie by Kalenga se huis gevind. Owerhede sê hy het eers gelieg oor sy woonadres en het ook tydens sy arrestasie geen melding van die mnr. Gabriel gemaak nie. Hy het onskuldig gepleit op die klagte van dwelmhandel.