Eise dat Jeugdiens gelikwideer word

Die rekrute van die Nasionale Jeugdiens se sekuriteitsdienste eis dat die diens gelikwideer word en dat die regering dit eerder oorneem, terwyl hulle kla oor laat betalings van salarisse en ander ongerymdhede. Die groep het vroeër die week die hulp van die omstrede aktivis Michael Amushelelo ingeroep wat gelei het tot betaling van Desember se salarisse Woensdagmiddag. ‘n Versoekskrif is deur die groep ingedien waarvolgens hulle sê salarisse word gereeld laat betaal en ook, dat hulle 10 Namibiese dollar ‘n uur in betaling eis, inlyn met die minimumloon wat die industrie ingestel het. Die wagte sê hulle werk by die onderwysministerie en dat die verskoning dat die jeugdiens se debiteure nie optyd betaal nie is onaanvaarbaar.