Egipte wil Indiese koring vir kunsmis verruil

Indië en Egipte is in gesprek om koring vir kunsmis te ruil te midde van groeiende voedselvoorraad-tekorte. Vir die moontlike ooreenkoms sal Indië koring na Egipte uitvoer en kunsmis en ander produkte in ruil daarvoor kry. Dit is volgens die Egiptiese minister van voorsiening, Aly El-Moselhy. ‘n Vergadering is die afgelope week gehou vir ‘n ruilooreenkoms van 500 000 ton koring. Rusland se inval in die Oekraïne het wêreldwye koringmarkte ontwrig. Indië is die tweede grootste koringprodusent ter wêreld, maar het koringuitvoere in Mei gedeeltelik verbied om sy eie voedselsekerheid te versterk. Op sy beurt is Egipte een van die wêreld se voorste koring-invoerders en staar ‘n besonder moeilike situasie in die gesig – potensiële voedseltekorte en maatskaplike onrus.