Efundja: Talle huishoudings omring deur water, skole moet dalk sluit

Die Namibiese landbouministerie het talle spanne ontplooi om die heersende situasie rakende die efundja in die Noorde te monitor. Op die oomblik is die water in die westelike dele van die Ohangwena-streek gekonsentreer maar ongeveer 70 huishoudings is reeds omring. Inwoners het uitdagings om rond te beweeg en daar is sprake dat skole in die gebied gesluit sal moet word. Die minister, Calle Schletwein het onlangs bekend gemaak dat moniteringstelsels of gevandaliseer is of gesteel is maar, die woordvoerder, Jona Musheko, sê hulle monitor die situasie op die grond. Die vloedwater het reeds oor die naweek die Engela-Okalongo-pad oorgesteek. Angolese media berig oor swaar reënval in die suidelike Cunene-provinsie en dat die water op pad is na die Cuvelai-bekken in Namibië. Musheko het die jongste met Kosmos 94.1 Nuus gedeel.