Eet saam, dit verminder spanning, help selfvertroue

Gereelde gesins-aandetes kan spanning in die huisgesin verminder. Dit is die bevinding van ‘n ondersoek na chroniese spanning deur die Amerikaanse Hartstigting. GoodNewsNetwork berig 91 persent van die deelnemers het gesê hulle gesinslede was minder gespanne wanneer hulle saam geëet het. Vier-en-tagtig-persent het gesê hulle wens hulle kon meer gereeld maaltye met geliefdes deel. ‘n Vrywilliger van die stigting, Erin Michos, sê om saam met ander te eet, is ‘n baie goeie manier om spanning te verminder, selfbeeld te verbeter en sosiale bande te verstewig, veral onder kinders.