Eerste verdagtes in Opuwo-bankdiefstalsaak in hof

Die twee verdagtes wat in Opuwo in hegtenis geneem is in verband met die opspraakwekkende Bank Windhoek-diefstal, het vlugtig in die dorp se landdroshof voor landdros Eden Kuneni Amutenya verskyn. Die 34-jarige Untag Kamati en 19-jarige Fenni Megameno Ankoshi is borgtog geweier en die saak is uitgestel tot 11 April vir verdere ondersoek. Hulle staan tereg op aanklagte van sameswering om diefstal te pleeg, en diefstal. Die staat voer volgens plaaslike berigte aan dat hulle met Nico Rebebe, ‘n werknemer van Bank Windhoek, saamgesweer het om meer as 2,5 miljoen dollar op 13 Januarie te steel. Kamati en Ankoshi het aangedui dat hulle vir regshulp sal aansoek doen. Rebebe is steeds soek en Bank Windhoek bied ‘n beloning van 20 000 dollar aan vir inligting wat kan lei tot sy suksesvolle arrestasie en aanhouding.