Eerste betoger in Iran gehang

‘n Betoger is in Iran gehang nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy “teen God oorlog gevoer het” as deel van die betogings wat sedert September oor die land heen plaasgevind het. Mohsen Sjekari is daarvan beskuldig dat hy een van die oproeriges was wat ‘n hoofpad in Teheran op 25 September versper het en ‘n lid van die Basij- paramilitêre mag met ‘n mes gewond het. Iran se regbank het tot dusver 11 mense ter dood veroordeel in verband met die betogings wat begin het nadat die 22-jarige Mahsa Amini in September dood is. Sy is deur die moraliteitspolisie aangehou omdat sy glo haar hijab verkeerd gedra het. Die landwye betogings is die grootste teen die Islamitiese Republiek Iran sedert 1979.