Eenvoudige slenter lei tot selfoon- en kontantdiefstal

Die Namibiese polisie sê ‘n 21-jarige vrou is op Opuwo beroof met ‘n redelike eenvoudige slenter. Volgens die mag is die slagoffer deur twee mans en ‘n vrou by ‘n vulstasie genader om te help met ‘n vertaling van Oshiwambo na Engels. Die drie het blykbaar haar hulp nodig gehad om 50 000 Namibiese dollar by ‘n bank op die dorp te onttrek vir hulle besigheid. Die slagoffer is oorreed om saam te gaan met een van die mans, en haar goedere by die ander twee te los. Haar selfoon en 3 100 dollar in kontant is gesteel na die twee spoorloos van die vulstasie verdwyn het. Daar was natuurlik ook geen onttrekking van kontant by ‘n bank nie. Geen arrestasie is gemaak nie maar die slagoffer kan blykbaar die drie verdagtes identifiseer.