Een van agt ontsnaptes weer vasgetrek

Die Namibiese polisie het een van die agt gevaarlike misdadigers wat Sondag uit die Ondangwa-polisie se aanhoudingselle ontsnap het, weer in hegtenis geneem. Die 27-jarige Gideon Junior Nashilongo, wat aangekla word van moord en regsverydeling, is Woensdag weer by Oshikango in die Ohangwena-streek in hegtenis geneem nadat hy uit Angola gedeporteer is. Hy verskyn na verwagting môre in die hof. Die ander sewe Namibiese en Angolese mans wat deur die dak van die Ondangwa-polisie se aanhoudingselle ontsnap het, is steeds voortvlugtig. Hulle staan tereg op aanklagte wat wissel van moord, geslagsgeweld, verkragting, huisbraak en roof.