Een dood, 15 beseer n missiel-aanval in Dnipro

Die Oekraïnse President Volodymir Zelenski sê minstens een persoon is dood en 15 is beseer in ‘n missiel-aanval op ‘n mediese kliniek in die stad Dnipro in die ooste van die land. Hy sê pogings gaan voort om nog mense uit die kliniek te red. Owerhede het vroeër gesê tien Russiese missiele en meer as 20 hommeltuie is oornag by Dnipro, die hoofstad, Kiëf, en in die oostelike streke afgeskiet. Sewe missiele en ‘n aantal hommeltuie kon nie afgeskiet word nie. Buiten die hospitaal is skade aan huise, voertuie en besighede ook aangemeld.