Ecowas stel ultimatums aan Guinee, Mali en Burkina

Wes-Afrika se politieke en ekonomiese blok, Ecowas, sê dit gee Mali se militêre oorgangsregering 12 tot 16 maande om verkiesings te reël en het Guinee se regerende junta ‘n maand gegee om ‘n demokratiese oorgangstydlyn voor te stel. Die blok het ook ingestem om Burkina Faso se tussentydse leiers te vra om ‘n voorgestelde oorgang van 36 maande aan te pas na ‘n “meer aanvaarbare tydlyn”. Wes-Afrika is sedert Augustus 2020 geruk deur twee staatsgrepe in Mali, een in Guinee en een in Burkina Faso, wat sy reputasie as ‘n model van demokratiese vooruitgang in Afrika negatief beïnvloed. Ecowas sê demokratiese waardes moet bewaar word. Die blok het reeds sanksies teen Guinee en Mali ingestel omdat hulle voete sleep om grondwetlike orde te herstel.