Duitsland vry na Namibië se groenwaterstof

Die Duitse minister van ekonomie, Robert Habeck, het in Namibië aangekom op ‘n vyf-dag reis wat ‘n besoek aan Suid-Afrika insluit. Die besoek is deel van ‘n poging om nuwe energiebronne vir Europa se grootste ekonomie te verseker om te vergoed vir die afsny van Russiese gasvoorrade. Habeck, wat deur ‘n afvaardiging van 24 Duitse sakeleiers vergesel word, sal volgens berigte plaaslik ‘n ooreenkoms onderteken oor die produksie van groen waterstof. Hy sê Namibië het baie groot voordele in terme van ligging in vergelyking met Europa en voeg by dat die Skedelkus ideaal is vir groenwaterstofproduksie as gevolg van ‘n oorvloed son en wind. Duitsland se energie-reus, RWE, en Hyphen Hydrogen Energy het onlangs ‘n memorandum onderteken wat RWE sal voorsien met tot 300 000 ton per jaar groen ammoniak. Habeck vlieg vanaand na Suid-Afrika om die Duits-Afrikaanse Besigheidsberaad in Johannesburg by te woon.