Duisende woon begrafnis-optog in Jenin by

Duisende mense het ‘n begrafnis-optog in Jenin in die besette Wesoewer bygewoon van 12 Palestyne wat tydens Israel se tweedaagse militêre operasie dood is. Inwoners van Jenin het volgens berigte geweier dat leiers van die Palestynse owerheid die optog bywoon, weens woede oor hul beweerde gebrek aan optrede tydens Israel se offensief in die plaaslike vlugtelingekamp. Een Israelse soldaat is ook tydens die offensief dood en sowat honderd Palestyne is gewond. Agt mense is ook vandag beseer toe ‘n Palestynse verdagte met ‘n motor in voetgangers in Tel Aviv ingeploeg het, en daarna omstanders met ‘n mes aangeval het. Die aanvaller, wat op die toneel doodgeskiet is, is as ‘n Hamas-lid geïdentifiseer.