Drukgroep probeer Libiese woude beskerm

Oorloggeteisterde Libië is meer bekend vir sy olierykdom as sy woude, maar omgewingsbewustes hoop om sy oorblywende woude te red. Die “Friends of the Tree”-groep werk om bewustheid te kweek oor groen gebiede rondom die hoofstad Tripoli wat vinnig besig is om te verdwyn as gevolg van droogte, menslike aktiwiteite en verwoestyning. Reënval is skaars in die land en die groep wil uiteindelik ‘n “groengordel”-projek uit die 1950’s en ’60’s laat herleef. Woude is in daardie tyd aangeplant met streng wette om hulle te beskerm. Vandag het Libiese staatsinstellings verswak en in die afgelope paar jaar is minstens 1 700 kriminele sake geïdentifiseer wat aktiwiteite soos ongemagtigde houtkappery en onwettige konstruksie insluit.