Druk op Israel neem toe

Israel kom uit internasionale oorde toenemend onder druk oor stygende sterftes onder burgerlikes en die vernietiging van hospitale in Gaza terwyl sy oorlog teen Hamas in die Palestynse gebied voortduur. Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad stem vandag oor ʼn nuwe resolusie wat ʼn dringende en volhoubare staking van vyandighede in Gaza bepleit. Die dodelike Gaza-oorlog het begin ná Hamas se ongekende aanvalle op Israel op 7 Oktober waarin 1 139 mense, meestal burgerlikes, vermoor en sowat 250 volgens Israel se bygewerkte syfers ontvoer is.