Dringende versoek vir oplossing van Rehoboth-staking

Die Hardap-streek se Burgerlike Samelewingsorganisasies Netwerk is bekommerd oor die voortslepende staking deur die Rehoboth-dorpsraad se werknemers. Die werknemers het verlede Woensdag begin staak en eis ‘n salarisverhoging van vier persent. Intussen het sommige inwoners op Rehoboth sedert verlede week geen water nie, omdat hulle nie voorafbetaalde water kan koop nie. Die netwerk sê hulle verstaan die reg van die werkers om te staak, maar versoek die bestuursraad van die Rehoboth-dorpsraad, die werknemers en hul vakbond om ‘n vriendskaplike oplossing te vind as ‘n saak van dringendheid, sodat noodsaaklike dienste aan die inwoners kan hervat. Hiskia Nashuuta, bemarkings- en kommunikasiebeampte van die netwerk, gesels met Kosmos 94.1 Nuus.