Drie jaar gelede is Fishrot ontbloot, aksie is nodig

Dit is vandag drie jaar sedert die Fishrot-skandaal aan die lig gekom het. Meer as 30 000 dokumente het ontbloot hoe Ysland se grootste visvang-maatskappy Samherji na bewering sedert 2012 miljoene dollars aan politieke figure en hul medewerkers in Namibië betaal het om visvangkwotas te bekom. Die skandaal is die grootste in beide Namibië en Ysland se geskiedenis. Daar word beraam dat die waarde van die transaksies ongeveer 650 miljoen Amerikaanse dollar beloop. Terwyl die hofsaak voortduur, doen die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing, in samewerking met Transparency International, ‘n beroep op Samherji om hom te onderwerp aan ‘n proses van herstel en remediëring wat ook stappe insluit om geraakte gemeenskappe te vergoed. Daar word ook geëis dat Ysland se owerhede kriminele verrigtinge begin en dat Namibiese owerhede verdere bestuurshervorming instel – veral deur wysiging van die Wet op Mariene Hulpbronne, wat Fishrot moontlik gemaak het.