Drie dood, nege beseer toe vliegtuigskuur intuimel

Vyf mense is steeds in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal nadat ‘n vliegtuigskuur langs ‘n Amerikaanse vliegveld ingetuimel en drie mense gesterf het. Nog vier mense is beseer tydens die voorval naby die Boise-vliegveld in Idaho. Die metaalstruktuur was in aanbou vir ‘n onderneming wat privaat vliegtuigverhurings en instandhouding aanbied. ‘n Hyskraan het ook omgeval nadat die gebou ingetuimel het. Die vliegveld is nie geraak nie. Owerhede het ‘n ondersoek na die oorsaak van die voorval begin.