Dossier oor Chinees se ivoorsaak weg, saak uitgegooi

Die Windhoek-streekslanddros Leopoldt Hango het geen keuse gehad as om die saak teen Chinese burger Hou Cheng en Namibiër Hamutenja Hamutenya uit te gooi nie. Die dossier het weggeraak. Die twee, wat klagte van die onwettige handel van wildprodukte in die gesig gestaar het, is in Junie 2014 in hegtenis geneem in besit van 54 kilogram ivoor ter waarde van amper 600 000 Namibiese dollar. Die staat het verskeie ander klagte teen Hou bygevoeg in verband met ander datums en die besit van verskeie velle sowel as ‘n ietermagô-vel. Hango het Hou se borg van 100 000 dollar en Hamutenya se 5 000 dollar gekanselleer en opdrag gegee dat die geld terugbetaal word. Die landdros sê die staat het nie sy werk gedoen nie omdat die saak reeds agt jaar sloer en sonder die dossier, is daar geen saak nie.