Dodetal styg in Indië na hangbrug meegee

Meer as honderd mense is dood toe ‘n hangbrug in Morbi in die staat Gujarat in die weste van Indië meegegee het. Die brug van 230 meter is ‘n toeriste-aantreklikheid wat in die 19de eeu gebou is. Dit is verlede week weer oopgestel nadat dit opgeknap is. Honderde mense het volgens berigte op die brug saamgedrom toe dit tydens Diwali-vierings ineengestort en talle mense in die Machchu-rivier laat beland het. Sowat 80 mense is gered. Owerhede sê weermagpersoneel help met die soek-en-reddingsoperasie.