Dit brand noord en suid van Whk

Die brand wat gister by ‘n pakhuis in Brakwater net noord van die hoofstad om ongeveer kwart voor 12 ontstaan het en vinnig na Elisenheim versprei het, brand steeds en beweeg in ‘n oostelike rigting. Owerhede het volgens berigte groot uitdagings gehad met personeel tekorte by die brandweerdiens. Intussen het nog ‘n brand, ongeveer dieselfde tyd naby Klein Aub-plaas en Kupferberg, aan die suidweste van die hoofstad uitgebreek en die brand is ook steeds nie geblus nie. Op ‘n stadium het die vlamme die Regenstein-landgoed bereik. Daar word verwag dat droë en warm toestande sal voortduur tot die tweede helfte van November wanneer die eerste reën van die seisoen verwag word. Kenners het ‘n rekord brandseisoen voorspel en brandstigting en die produksie van houtskool word in meeste gevalle geblameer vir die verwoesting.