Direkte spanning tussen Rusland en VSA neem toe

Amerika het Rusland gewaarsku om nie die vier Oekraïnse streke van Luhansk, Donetsk, Zaporizhzhia en Kherson te annekseer nie maar dit blyk asof Rusland hom daaraan afvee omdat voorbereidings vir die aankondiging reeds op die Rooi Plein in Moskou getref word. Russiese amptenare het Dinsdag bevestig van 99,3 persent van die inwoners van die streke, wat 15 persent van die Oekraïne beslaan, ja gestem het vir anneksering. Die internasionale gemeenskap verwerp die referendums omdat dit nie volgens internasionale regulasies plaasgevind het nie. Daar is kommer omdat Russiese President Vladimir Putin gesê het sou enige deel van sy soewereine territorium aangeval word sal hy nie skroom om selfs kernwapens te gebruik om homself te verdedig nie. En owerhede in die Oekraïne sê hulle sal voortgaan om die gebiede terug te wen. Spanning tussen die VSA en Rusland blyk om toe te neem en Amerikaanse burgers in Rusland is vandag opdrag gegee om die land te verlaat.