Die strate van Rundu is uiters onveilig…

Die Namibiese polisie op Rundu het in Julie vanjaar 69 straatrooftogte aangeteken waarby hoofsaaklik kontant en selfone betrokke was. Die misdaadondersoek koördineerder vir die Kavango-Oos-streek, adjunkkommissaris Bonifatius Kanyetu sê gevalle het effe afgeneem na 42 in Augustus met hul operasie Ndenderemo, maar is steeds te hoog. Hy sê die misdade word meestal deur seuns tussen die ouderdomme van 15 tot 18 gepleeg en sê dat byna 27 bendeleiers in die twee maande in hegtenis geneem is. Baie van die gesteelde items beland na bewering in die grensdorpie Calai in Angola. Kanyetu se aanmerkings kom kort op die kommentaar van die All People’s Party wat ‘n beroep op die polisie gedoen om die Namibiese weermag te ontplooi om te help met die herstel van openbare veiligheid in die strate van Rundu.