Die Sharks klop die Bulls

Die Sharks het ‘n ligte opskudding veroorsaak toe hulle die Bulls gisteraand 30-16 verslaan het in die Verenigde Kampioenskap in Durban. Die kaptein Lukhanyo Am, en mede-Springbokke Makazole Mapimpi, Siya Kolisi, Sbu Nkosi en Bongi Mbonambi, het van toetsdiens teruggekom om die gashere te versterk. Die losskakel, Boeta Chamberlain, het 18 punte met sy skopskoen aangeteken en Am se onderskep-drie van ‘n aangee deur Morné Steyn van die Bulls, was ‘n hoogtepunt. Vanmiddag verwelkom die Stormers die Lions in die Kaapstad-stadion.