Diarree-uitbreking tref Harare

’n Diarree-uitbreking het Zimbabwe se hoofstad Harare getref. Volgens berigte word dit veroorsaak deur ongesuiwerde water, ‘n gebrek aan kraanwater in sommige voorstede, en die vullis wat nie deur die stadsowerhede opgetel word nie. Teen einde November is meer as 1 000 gevalle aangeteken. Twee digbevolkte voorstede, Glenview en Glennorah is die swaarste getref. Inwoners sê die kraanwater is nie gesuiwer nie en daar is nie geld om boorgatwater aan te koop nie en dus is hulle gedwing om die water te gebruik. Die stad se burgemeester Jacob Mafume, sê die stadsraad doen sy bes maar ‘n maatskappy in staatsbesit het nie genoeg watersuiweringschemikalieë aan hulle verskaf nie. Die afgelope 10 jaar het Zimbabwiese stede gereelde uitbrekings van diarree, tifus en cholera ondervind, wat deur besmette water en voedsel versprei word.